Elsje KrugerElsje Kruger het haar Bcom Rekeningkunde-graad aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus (die destydse PU vir CHO) verwerf en het ná haar studies die onderwys betree. Sy het haarself gou onderskei as ’n vrou wat terugstaan vir niks nie en het gou departementshoof van ekonomiese wetenskappe geword.
Sy is al sedert 2004 betrokke by die Noordwes Kinderkoor, aanvanklik as die tesourier van die koor tot 2006. In 2007 het sy die leisels oorgeneem as organiseerder van die koor. In daardie tydperk het sy verskeie nasionale konserttoere vir die koor gereël asook drie internasionale konserttoere na onder meer Oostenryk, Italië, Praag, Slovinië, Frankryk, Nederland, Duitsland en Engeland. Met 38 jaar se ervaring in die onderwys, het sy ’n ongelooflike liefde vir kinders en speel ’n noemenswaardige rol in hulle opvoeding en verwysingsraamwerk. Sy meen dit is ontsagtelik belangrik om ’n kind van kleins af bloot te stel aan so veel as moontlik geleenthede. Sy voel sterk daaroor dat kinders soms te veel onderskat word en dat hulle tot baie meer in staat is as wat normaal verwag word. Haar liefde vir koorsang en die energie waarmee die kinders die koorsang aanbied, maak dit vir haar baie opwindend om deel te wees van die koor. Met haar as organiseerder van die Noordwes Kinderkoor is verrykende ervarings en geleenthede vir jong sangers gewaarborg. For the English version click here. |